Ons glo in een God wat alles geskep het en wat as drie Persone nl. Vader, Seun en Heilige Gees tot in ewigheid sal heers.

Deut 6:4 "Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here".
Jes 45:18 So sê die Here, Hy wat die hemel geskep het, Hy wat alleen God is, Hy wat die aarde gevorm, gemaak het, dit gereed gemaak, geskep het, dit gevorm het, nie om leeg te wees nie, maar om bewoon te word: "Ek is die Here; daar is geen ander nie".

Ons glo dat Jesus Christus die seun van God is, asook in Sy maagdelike geboorte en dat hy sondeloos geleef het.

Matt 1:22,23 "Dit sal alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het vervul sou word: 23 Die maagd sal swanger word en 'n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem. Die naam beteken God met ons."

Ons glo dat Jesus aan die kruis gesterf het, dat Hy ons hierdeur van sonde verlos het en dat ons aan hom behoort.

Matt 27:32-36 "Toe hulle uitgaan, kry hulle 'n man van Sirene met die naam Simon, en hulle het hom gekommandeer om Jesus se kruis te dra. 33 Hulle kom toe by 'n plek wat Golgota genoem word; dit beteken Kopbeenplek. 34 Daar het hulle Hom 'n mengsel van wyn en gal gegee om te drink, maar toe Hy die proe, wou Hy dit nie drink nie. 35 Hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur te loot. 36 Daarna het hulle gaan sit en by Hom wag gehou".
Joh 19:17,18 "Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is in Hebreeus Golgota. 18 Daar het hulle Hom gekruisig saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel."
Gal 2:20 "En nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê"

Ons glo ook dat Jesus na drie dae uit die dood opgestaan het. Na die hemel opgevaar het waar Hy aan die regterhand van God regeer, totdat Hy terugkeer om sy bruid te kom haal.

Matt 28:5.6 Toe sê die engel vir die vroue: "Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. 6 Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het."
Hand 1:9-11 "Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en 'n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10 Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11 Dié sê toe vir hulle: Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien gaan het".

Ons glo in die werking, vrugte en gawes van die Heilige Gees.

Joh 14:15-17 "As julle my liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16 Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17 naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees".
Gal 5:22,23 "Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23 nederigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24 Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25 Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal".
1 Kor 12:1-11 "Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek hê dat julle ingelig moet wees. 2 Julle weet dat, toe julle nog heidene was, julle blindelings na die stom afgode meegevoer is. 3 Daarom wil ek hê julle moet weet dat iemand wat sê: "Vervloek is Jesus", nie deur die Gees van God praat nie; en niemand kan sê "Jesus is die Here" nie, behalwe deur die Heilige Gees. 4 Daar is 'n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee, 5 daar is 'n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; 6 daar is 'n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring. 7 Aan elkeen afsonderlik word 'n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. 8 Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om 'n woord van wysheid te praat, aan 'n ander 'n woord van kennis deur dieselfde Gees; 9 aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees. 10 Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan 'n ander die gawe om God se boodskap te verkondig, en aan nog 'n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan 'n ander om dit uit te lê. 11 Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik 'n gawe uitdeel soos Hy wil".

Ons glo dat God se woord, die Bybel, die waarheid is en ons leer en onderrig.

Heb 4:12 "Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart".










Google